Ons weet dat deur die lewe beleef ons ons geloof in Jesus maar soos 'n "rollercoaster", daar is hoogte punte, en dan kort daarna is daar weer laagte punte, dit gaan maar so op-en-af.
Ons is kort kort besig om te sondig, en dit is baie frustrerend, want ons probeer so hard om hierdie heiligmaking proses aan te jaag, of as ons een voet-fout maak dan val ons weer heelwat terug in ons ou maniere, dan is dit weer 'n gesukkel om te kom waar ons was.
Mense sê hierdie stelling te gereeld en te maklik, "Ek is nie waar ek met die Here moet/wil wees nie."
Ons GLO in Jesus! Maar wat nou?
Dit is basies die vraag wat Jakobus beantwoord in sy brief wat hy aan die kerk geskryf het.
Lees Jakobus 2:14-26 saam deur.
Kom ons dink bietjie saam deur hierdie teks gedeelte...
1. (v14-17)
Jakobus sê basies dat as ons glo maar ons geloof nie in dade oor gaan nie, dan is dit eintlik 'n dooie geloof. Ek sê ek glo, maar niemand kan dit in my lewe raak sien nie. Ek is op my eie mission en alles wat ek doen is vir my en my gesin. Ons het nooit tyd vir ander mense nie en ons bou hoë mure om ons harte om onsself te beskerm.
Is ek en jy besig om ons geloof in Jesus uit te leef? Is ons besig om te doen wat Jesus van ons verwag?
Is ons besig om ons nastes lief te hê?
2. (v18-19)
Dit is baie maklik om te sê ek glo, maar is dit ware geloof as niemand dit kan raaksien nie? Sê ek dalk net ek glo want ek wil nie eendag op 'n plek sit waar Jesus nie is nie? Glo ek regtig dat Jesus my nooi na die Bruilof fees toe en dat ek deel het in Sy Koninkryk, die Hemel? Of sê ek maar net ek glo omdat ek bang is dit is waar, maar my lewe wys nie my geloof nie want ek wil die beste van altwee hê? Ek wil Hemel toe gaan, maar ek wil ook doen wat ek wil...
Dit is interessant dat Jakobus sê die bose geeste glo ook in God, want ek en jy altwee weet hulle gaan nie hemel toe nie... Wat beteken dit vir die mense wat sê hulle glo in God maar hulle lewe soos die bose geeste wil hê hulle moet lewe?
3. (v20-25)
- Abraham se voorbeeld is baie mooi, want ons kan sien hoe sy geloof (die vertroue op God se belofdes) het 'n span met die dade (die sigbare bewys) gevorm. Deur Abraham se dade kan ons baie duidelik sien dat hy opreg geglo het in God.
- Ragab se storie is ook baie waardevol, want God het haar van 'n persoon wat sonde haar beroep gemaak het, gered en gereinig, omdat sy haar geloof in God met dade bewys het, al het dit potensieël beteken dat sy haar lewe mag verloor.
👉Jakobus sê glad nie dat ons deur ons goeie dade gered word nie.
Wat hy wel sê is dat die geloof wat sonder dade is, dood is.
En dit is daardie ware geloof in Jesus; dat Hy vir ons sondes gesterf het en dat Hy ons vryspreek van ons sondes deur Sy genade, wat ons red.
Great!! ONS GLO SO ONS IS GERED!!!!
Dit is 100% waar, maar is dit ware geloof wat jy het? Geloof wat gehoorsaam is aan die wil van die Here?
✝️⚠️Geloof is basies dit... Wie het al gebungeejump?
Baie mense hou die tou naby, maar dan wil hulle nie die tou vasbind nie, want dit beteken dan hulle moet in die tou vertrou en spring. Baie mense sit selfs die tou om hulle enkels en die harnas aan, maar hulle spring nogsteeds nie, want hulle is bang die tou breek, omdat hulle twyfel. Dié mense kan nie sê hulle het gebungeejump nie. Dan kry jy die mense wat die tou en die harnas aan het en wat die tou vertrou, en wat spring, en die beste tyd van hulle lewens het. Hulle kan wel sê dat hulle al gebungeejump het...
Lees Matteus 7:21-27 saam.
Is jou Fondament op Jesus gebou?
Is jou geloof in Jesus so, dat wanneer daar 'n stortreën val, en wanneer die vloedwaters afkom, en wanneer die wind jou waai en druk, dat jy standvastig in Hom kan bly staan?
Wat ons moet besef is dat ons nog al die pad beproewings gaan beleef. Ons is in 'n reinigings proses. En wanneer ons beproewings beleef, dan moet ons juis aan ons geloof in Jesus vashou sodat ons kan volhard in ons geloof.
Daar is twee tipes geloof. Die geloof wat dood is, en die geloof wat lewend is.
Watter geloof het jy?
Die genade van die Here is gelukkig baie groot, en Hy gee ons soveel kanse om die lewende geloof te kry, en dan wanneer ons die lewende geloof het, te verdiep.