Begin jou sessie die week om saam te bid.
Lees die volgende hoofstuk in Handelinge. Hierdie was een van die grootste vergaderinge in kerk se geskiedenis. Waar Paulus op nuut gelowiges herinner dat alles begin by Jesus Christus, daarna genade en dan vloei alles na werke.
Wat staan vir jou uit in die hoofstuk?
Die kern gedagte agter die hoofstuk behels - die eerste aspek van geloof. Jesus is die weg, die waarheid en die lewe. Tweedens, gelowiges word gered deur genade. Hierdie vloei dan oor werke. In Handelinge 15:11 word die kern bevestig -
Paulus skryf ook aan die gemeente in Efesiërs oor die 1, 2 en 3 van geloof wat die kern van die vergadering was in Handelinge 15. Lees die volgende teks gedeelte in Efesiërs 2
Wat staan vir jou uit in die teks gedeelte?
Hoe sal jy dit verduidelik vir iemand wat sukkel met die beginsel 1, 2 en 3?
Wat behels hierdie teks gedeelte vir jou?
Vanuit jou lewendige verhouding met Jesus, kom die groei in jou verstaan hoe ver, wyd en groot God se genade is, maar dan kom die werke. Ons word geroep om werke te doen. Werke wat ons nie heilig maak nie, maar werke wat ons doen omdat ons gered is.
Wat doen jy tans om God te beindruk?
Werke vir God is nie iets wat jou en my red nie- werk is asgevolg van ons verhouding met God.
Wat doen jy tans waarmee jy die Here wil beindruk?
Wat is jou motivering hoekom jy dit doen?
Hoekom is dit belangrik dat ons as gelowiges ons motivering vir aksies vir die Here evalueer?
Mag jy opnuut verstaan dat alles begin by jou verhouding en geloof in Jesus Christus
Mag jy opnuut verstaan dat ons elkeen gered word deur genade
Mag jy opnuut jou werke evalueer sodat dit die Here verheerlik
Bid saam
Lees die storie van Petrus en Kornelius in Handelinge 10:1-35.
Wat staan vir jou uit in hierdie gedeelte? Wat verstaan jy nie of sou jy graag meer van wou weet?
Daar is 'n hele paar dinge wat hierdie teks ons wysmaak: Kornelius, 'n heiden, vra nie vrae nie en volg dadelik God se stem na 'n vreemde plek en vreemde persoon. Petrus, 'n Jood, kry 'n visioen dat hy nie moet vaskyk teen wat rein of onrein is nie.
Twee persone van verskillende nasies, kulture en omstandighede wat nie met mekaar meng nie, maar tog maak God 'n plan om hulle bymekaar uit te bring om Sy groter plan te laat werk.
God se boodskap is duidelik: ons moenie oordeel nie, differensieer of stereotipeer nie - almal wat Hom dien is deel van Sy plan!
Watter persone is daar dalk wat jy oordeel op grond van hul "uiterlike", posisie in die samelewing, instansie, dorp of nasie...?
Buiten hierdie belangrike les, leer die storie ons ook dat God 'n meester strateeg is. Hy het 'n goed uitgewerkte plan wat Hy nie gaan laat vaar nie. Dink 'n bietjie aan die Ou Testament en waar God die regte mense op die regte tyd op die regte plek geplaas het om Sy plan tot uitvoer te bring...
Hoe sien jy God se plan in Handelinge 1:8, die res van die boek Handelinge en nou in Handelinge 10? God se plan was altyd om by die Israeliete te begin, in Jerusalem, na Judea, Samaria en die uithoeke van die wêreld. God se werk gebeur nie maar net toevallig nie, maar is deurdink, goed uitgewerk en strategies sinvol.
Kornelius het God se plan vertrou sonder om vrae te vra! Sonder om al die besonderhede te ken...
Petrus woon in Joppe, 'n kusdorpie met 'n belangrike strategiese ligging, van hier af brei die kerk na al die nasies uit. Weet jy dat Joppe ook die plek was waarheen Jona in die Ou Testament gevlug het toe hy van God af weggekruip het en nie Nineve toe wou gaan nie? Hy is op die ou einde Tarsus toe en oppad het 'n vis hom ingesluk - waar het sy planne, of die versuim om God se plan te volg, hom uitgebring?
Baie keer voel dit asof ons lewe in 'n doodloopstraat is, 'n "dead end", dinge werk nie uit nie, ons voel onvergenoegd en ontevrede in ons daaglikse lewe, ons planne is op...
God laat staan ons nie daar nie... Hy los nie los punte onopgelos nie. As jy Sy wil soek, maak Hy 'n weg oop!
Waar Jona die stukkies in Joppe gelos het, tel God die storie op en gee nou vir Petrus 'n kans om die evangelie aan heidene te gaan versprei. Gelukkig vertrou Petrus op God se plan en sê Petrus ja! Sy naam is nie verniet Simon Barjona (Matteus 16:17) nie - Hy is die tweede Jona! Waar Jona die deur toegemaak het, het God dit weer oopgemaak. Waar God wil, sal daar 'n weg wees.
Daar waar jou planne opraak, kan jy weet dat God se planne nooit opraak nie. Hy slaap nie en Hy sluimer nie, Hy is gedurig aan die werk.
Kyk bietjie na die woord "Terwyl" in Handelinge 10 - dit kom 'n hele paar keer voor.
Terwyl Kornelius die Here gehoorsaam, gebeur daar reeds iets etlike kilometer verder in Petrus se huis.
Terwyl Kornelius oppad is, word Petrus reeds deur die Heilige Gees voorberei vir die gaste wat hom gaan besoek.
Terwyl jy vasgevang is 'n "maze" en jou planne op is, gaan God se plan genadiglik steeds voort. Net soos wat Handelinge 10 en 11 twee kante van dieselfde storie vertel, is daar twee stories in ons lewe - joune en God s'n.
Wat maak jou tans moedeloos? Waar het jy 'n droogte bereik? Waarmee worstel jy tans? Kyk op - die Here is reeds besig om 'n nuwe pad vir jou voor te berei, as jy aanhou soek na Sy wil.
Lees Spreuke 3:5-6 en Jeremia 29:11.
Hudson Taylor was 'n sendeling na China wat baie teenkanting in die gesig gestaar het - die vrou met wie hy jare later sou trou het aanvanklik nee gesê, mense het nie die evangelie aanvaar nie oor die manier waarop hy aangetrek het, maar Hy het bly vashou aan God se plan vir Sy lewe en baie sukses en seen ervaar op die einde. Hy het nie opgegee nie. Sy motto was: Move man, through God, by prayer alone." Jy hoef nie vasgevang te wees in hopeloosheid en mismoed nie, bid tot God en Hy sal 'n nuwe deur vir jou oopmaak.
Lees ook hierdie aanhaling van hom. Wat beteken dit vir jou?
Waar moet jy God vertrou om die pad te wys? Dink 'n bietjie wat die "toe" deure tans in jou lewe beteken... en wat God deur die "oop" deure in jou lewe wil doen... Ons lewe voel dalk soos 'n warboel van deurmekaar dinge en ons sukkel om ons pad vorentoe te vind - baie soos 'n "maze"!
Weet jy wat is die beste manier om 'n "maze" op te los? Jy begin by die eindpunt (die kasie!) en werk jou pad terug!
God se plan begin by die einde, dit wat Hy vir ons belowe, en dan maak die hoe en wanneer nie so erg saak nie. Ons planne begin by onsself en loop dan gou op 'n dooie punt uit.
Het jy 'n 3-jaar plan of 'n 5-jaar plan? Het jy dalk 3 jaar terug of 5 jaar terug so 'n plan opgestel? Hoe verskil jou lewe vandag van daardie plan? God vra nie van ons om 3-jaar planne of 5-jaar planne uit te werk nie, maar om gehoorsaam te wees in die nou en hier.
Is jy beskikbaar vir God se plan in jou lewe? Vertrou jy Hom om die pad te wys?
Begin by hom (die kasie in die "maze"!) en Hy sal jou die pad wys.
Kornelius se pad was Joppe toe - wie weet wat God dalk vir jou beplan om die volgende draai... Is jy dalk vasgevang in ou gewoontes, ou maniere van doen? Ry hierdie week 'n ander pad werk toe, of neem 'n nuwe pad kerk toe of huis toe - God het ons deur die Heilige Gees die vermoeë gegee om nuut te dink en van rigting te verander.
BID:
Here, mag ons planne nooit opraak nie.
Mag ons nooit stagneer en opgee omdat ons moedeloos is nie, maar mag ons aanhou vertrou dat U 'n beter plan het, beter en groter as enige iets wat ons kan verwag of voor bid.
Here, ons vertrou U vir die groot dinge in ons lewe, maar ook vir die klein dinge.
Amen.
Ons het eers gekyk na die Heilige Gees by ons en in ons lewens, en verlede week het ons gesels oor die Waarheid in Handelinge 4 en 5.
Vandag gaan ons na Handelinge 7:44-50 kyk...
Lees Handelinge 7:44-50 saam.
Wat staan vir jou uit in hierdie teks?
As God nie in geboue woon nie, is die vraag dan: "Waar woon God vandag?"
Dit is dan ons fokus van vandag: "Waar is God se huis vandag?"
Baie Christenne vandag dink dat die kerk die "Huis van God" is... Hulle dink dat as jy by die kerk se deure instap, moet jy "prim & propper" wees, want dit is waar God teenwoordig is. Hulle leefstyle wys dit ook baie duidelik dat hulle vertsaan is dat God in die kerk is, maar nie buite die kerk nie. By die kerk is ek 'n Christen, maar buite die kerk kan ek aanjaag en doen wat my hart se begeerte is. Dit is baie verkeerd om so te dink...
Ander sal weer sê dat wanneer dit goed gaan en alles in hulle lewens agter mekaar is dat God goed is en Hy is so teenwoordig in hulle lewens, maar wanneer dit bietjie agteruit gaan dan voel dit asof God ver is. Ons dink God is naby, en dan is Hy weer ver...
Selfs David in die Ou Testament het verstaan en geweet dat God alomteenwoordig is...
Lees Psalm 139:7-12 saam.
Wat staan vir jou uit in Psalm 139:7-12?
Ons gaan na 4 verskillende plekke kyk waar God deur die geskiedenis teenwoordig was en waar Hy nou teenwoordig is...
ADAM & EVA
God het ons geskape om by Hom te wees. Ons sien dit waar Hy vir Adam en Eva geskape het. Hy het die mens geskape in Sy Beeld: Genesis 1:27God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep.
Die mens is ligaam, siel en gees. Die ligaam laat ons toe om in die fisiese wêreld te leef, die siel laat ons toe om die emosionele te beleef en te kan besluite maak en planne te maak en dit dan uit te rig, en die Geestelike is wie ons eintlik is. Ons regte identiteit. Dit is hier waar God met ons is en waar ons met Hom is.
Sonde het wel gemaak dat ons dood gaan. Adam het nog in sy liggaam en siel bestaan en geleef, maar sy gees was dadelik dood toe hy sonde gepleeg het teen God. God het nie meer saam met Adam en Eva gestap nie. God is heilig en Hy is nie waar sonde is nie. Adam was soos 'n boom wat uit die grond uit geruk is (die teenwoordigheid van God) en hy het vir 'n tydjie lewindig gelyk, maar hy was eintlik reeds dood. Sy liggaam en siel het 'n tydjie na sy geestelike dood ook gesterf.
God het nie meer saam met die mens gestap nie, maar Hy het hulle ook nie heeltemal net verlaat en alleen gelos nie..
Ons sien baie hoe God in die Ou Testament met sekere mense praat en vir hulle opdragte gee. Ons sien hoe God deur engele of deur profete steeds leiding gee aan Sy mense.
God het self ook met mense gepraat. In Genesis 6 sien ons dat God met Noag praat en vir hom die opdrag gee om 'n ark te bou.
En waar God vir Abraham roep om uit sy land uit te trek.
En waar God met Moses praat deur die brandende bos.
Die verhale waar God met Sy mense praat is in die Bybel baie. Hy het hulle nie verlaat nie, maar omdat hulle sondig was, was God nie by hulle nie. Al is God alomteenwoordig, het Hy nie vir hulle die voorreg gegee om in Sy teenwoordigheid te wees nie.
Maar God het vir Moses geroep om Sy volk uit Egipte te lei, en om 'n groot tent, die Tabernakel, te bou.
DIE TABERNAKEL
God het vir Moses presiese instruksies gegee hoe om die Tabernakel te bou, en wat om in die Tabernakel te sit, en hoe om dit te wy (te heilig). Moses het presies gedoen wat God hom beveel het om te doen.
Toe hy dit klaar gedoen het, toe eers kom God se teenwoordigheid by die tabernakel in.
Lees Eksodus 40:34 & 35 saam.
Dit is hoe God Sy teenwoordigheid aan die volk van Israel gewys het. Omdat Hy heilig is, kon hulle nie Sy teenwoordligheid beleef nie. Hy was nog altyd en is nog altyd alomteenwoordig, maar die sonde van die mense het veroorsaak dat hulle nie God se teenwoordigheid kon beleef nie.
HULLE WAS ONBEWUS VAN GOD SE TEENWOORDIGHEID.
Maar met die Tabernakel het hulle God se teenwoordigheid laat beleef en laat sien.
DIE TEMPEL
Die volk is die beloofte land in met die Tabernakel, en Dawid vra toe vir God of hy 'n permanente Tabernakel, die Tempel mag bou.
Maar Dawid se seun, Salomo het toe die tempel gebou, met presies die dimensies en die inhoud van die Tabernakel...
Die Tempel het hy in Jerusalem gebou, en vir honderde jaare het mense jaarliks Jerusalem toe gegaan na die Tempel toe, want hulle het verstaan dit is hier waar God teenwoordig is.
Lees Matteus 12:12&13 saam.
Maar, weereens was die volk ongehoorsaam en hulle het die Tempel, wat God se teenwoordigheid verteenwoordig, vol van hulle eie harts begeertes en sondes gevul, en daarom was daardie Tempel ook net tydelik...
Lees Matteus 24:1&2 saam.
In die jaar 70 A.D. was die Tempel finaal afgebreek... Die Tempel was glad nie meer nodig gewees nie. Ons gaan nou sien hoekom nie.
JESUS
Toe Jesus op die aarde was, toe is Hy God se teenwoordigheid tussen die mense. Jesus is God en Jesus was by die mense, so God was by die mense.
Lees Johannes 1:14 saam.
Toe Jesus al ons sondes op Homself gedra het en gesterf het, toe is Hy, soos die Tabernakel en soos die Tempel, vernietig...
Maar, ons weet Hy het die sonde oorwin, en Hy het die dood oorwin, en Hy het weer opgestaan.
En Hy is Hemel toe met Sy hemelvaart.
Die vraag wat ons dan vanoggend vra, is: "As die Tempel af gebreek is en Jesus is nie meer by ons nie, waar is God dan teenwoordig vandag?"
ONS IS GOD SE TABERNAKEL
Toe Jesus gesterf het, toe het die voorhangsel voor die Allerheiligste geskeur, en dit wys dat almal wat in Hom glo nou toegang het tot die Allerheiligste; daar waar God teenwoordig is.
Maar meer as dit, God is nie net teenwoordig daar waar mense die plek gereinig het nie...
Hy is nou teenwoordig in elke gelowige se lewens. Hy is teenwoordig, letterlik in ons liggaam...
Jesus het toe Hy opgegaan het hemel toe gesê dat Hy die Heilige Gees gaan stuur om verewig by ons te wees...
Lees 1 Korintiërs 6:19&20 saam.
Wat staan vir jou uit in hierdie teks gedeelte?
God is teenwoordig by ons elkeen, elke dag van ons lewens. Van die dag af wat ons Hom as ons verlosser aanvaar het.
En ons kan nie besluit wanneer Hy teenwoordig moet wees en wanneer Hy nie teenwoordig moet wees nie... Hy is konstant by ons. In ons goeie oomblikke en in ons swak en slegte oomblikke is Hy teenwoordig...
Lees Kolossense 2:13&14 saam.
Wat staan hier vir jou uit?
Ons is vrygespreek van ons sonde, en God gee vir ons lewe en Hy is teenwoordig in ons lewens..
Hy is natuurlik oral teenwoordig, maar die mense wat in die sondige maniere van die wêreld leef is glad nie bewus van Sy teenwoordigheid nie.
Gesels met mekaar oor wat jy vandag geleer het.
Bid saam.