Hierdie week kyk ons na hoe God vir ons sy mag en liefde wys deur sy voorsiening.
Dit is nie net dat God 'n God van liefde is nie, maar ons kan ook in sy voorsiening sien wie Hy is en na wat Hy ons toe lei.
Lees Romeine 8:31,35-39
In Romeine 8:31 word die vraag gevra: "As God aan ons kant is wat kan dan teen ons wees?"
Hier is die eerste teken van God se soewereinheid in sy voorsiening. Hy is vir ons en ons reaksie daarop bepaal baie male ons uitkyk op die lewe en wat met ons gebeur. As ons glo dat God almagtig is en "vir" ons is, is daar niks wat teen ons kan wees nie, want niks kan by SY krag kom nie.
So ook wat sy voorsiening betref moet ons besef dat God vir elkeen van ons voorsien, maar nie op ons eie of die wêreld se terme nie. God weet wat jou volle potesiaal is en wil jou so ontwikkel. Hy bepaal die voorsiening volgens dit wat nodig is om Sy wil te laat geskied.
Waar het God al in jou lewe voorsien?
Wat het jy van Hom geleer?
Wat het jy van jouself geleer?
In Romeine 8:35 vra die skrywer "Kan enigiets ons van die liefde van God skei?"
Hy skep die beeld van goed wat probeer om ons van die liefde van God te skei. Soos 'n bergklimmer is ons almal besig om hierdie berg, wat die lewe is, uit te klim. DIt voel baie of ons aan ons vingerpunte hang en ervaar in daardie oomblik geen liefde nie. As God vir ons sê Hy is lief vir ons is dit nie 'n tydelike ding nie; dit strek tot in die ewige. So sal dit wat Hy vir ons gee ook ewig wees al lyk dit hoe klein.
Noem 'n voorbeeld van waar in jou lewe jy geskei van die liefde van God gevoel het?
Wat dink jy is die goed wat jou of jou naaste probeer skei van Sy liefde?
Wat leer ons uit Romeine 8:36-39?
Daar is oorwinning in die Here en deur die hulp en voorsiening van God kan ons dit behaal. DIt is wel belangrik vir elkeen van ons om God te vertrou en spesifiek op SY almag te vertrou. Ons moet weet dat Hy lief is vir ons en dat niks wat ons doen of met ons gebeur dit gaan laat ophou nie. Hy is God en Hy is goed en so sal Hy vir ons goeie goed voorsien - dit wat goed is in Sy oë.
Wat sal jy as 'n oorwinning sien in jou lewe? (in werk, verhoudings.....)
Wat het jy nodig om dit te behaal?
Het jy al vir God gevra vir dit?
Wat was SY voorsiening?
Lees saam Jesaja 6:13, 1 Petrus 1:5-7, Handeling 4:29
Hier lees ons van die stomp, goud en die wind
God se voorsiening leer ons van ons volle potensiaal (Jesaja 6:7) Hy gee sodat ons kan groei uit iets wat ons miskien sien as niks nie.
In 1 Petrus 1:5-7 lees ons dat ons soos goud getoets word om skoner en skoner te word. In dit moet ons weet dat God God is, al verstaan ons nie altyd hoekom Hy doen wat Hy doen of gee wat Hy gee nie, maar ons weet dat dit vir 'n doel is. Sy voorsiening wys vir ons iets van wie Hy is, maar werk ook aan ons na wie ons kan wees.
Handelinge 4:29 lees ons hoe die Apostels bid vir voorsiening. Hulle was gewoond om met min te leef en het geweet dat voorsiening van God af kom en dat God groot is. DIt is hoekom hulle nie voorsiening gesien het as 'n uitweg nie, maar as 'n geleentheid om gebruik te word. Soos wind wat koriningare waai is God se voorsiening vir ons. Sy voorsiening moet ons rigting help bepaal en is nie daar om die rigting waartoe ons self wil beweeg te versterk nie.
Waar in jou lewe sien jy potensiaal vir groei en hoe sou jy vir God vra om jou te help groei?
Wat in jou lewe het nog bietjie werk nodig - soos die goud wat gesmelt en gesuiwer moet word?
As jy kyk na hoe God al in jou lewe voorsien het, wat glo jy is die rigting waarin Hy jou stuur?
Bid saam