Lees Esegiël 47:1-12
Wat staan vir jou uit in hierdie gedeelte? Watter beeld kom in jou gedagtes op as jy hierdie gedeelte lees? Daar is baie simboliek in hierdie teks, maar dit is duidelik dat Jesus die lewende water is wat uit die tempel groei en alles waaraan Hy raak, verander.
Die droë grond word nat, die stroom word al hoe dieper, die Dooie See verander na vars water, visse swem in die water, bome groei en begin vrug dra. Die Tuin van Eden word as't ware herstel.
Maar waar begin dit?
Dit begin by die voordeur van die tempel.
Ons wil graag die wêreld rondom ons verander.
Ons wil graag hê meer mense moet kerk toe kom. Ons wil graag in 'n vooruitstrewende omgewing woon en werk.
Maar dit alles gaan net verander as ons by onsself begin.
Lees Johannes 7:37-38. Wat beteken dit vir jou?
Hoe sal jou vriende jou beskryf? Hoe sal jou kollegas jou beskryf?
Hoe lyk jou persoonlike verhouding met Jesus Christus? Hoe sal Hy jou beskryf?
Lees Jeremia 12:2 en Matteus 7:21. Wat het hierdie twee teksgedeeltes in gemeen?
Miskien doen jy baie goeie goed vir die kerk, maar jy is aggressief teenoor jou kollegas. Miskien is jy 'n regverdige en konsekwente baas by die kantoor, maar jy het nie geduld vir jou kinders en vrou by die huis nie. Miskien deel jy Sondae kospakkies buite die kerk uit, maar jy skel en vloek jou tuinman.
Hoe loof en prys jy God as niemand kyk nie? As dit net jy alleen is? Daar is dalk areas in jou lewe waar jy voluit gaan, maar daar is ook areas waarin jy nog baie moet groei, waar jy nog nie geesvervuld is nie.
God nooi jou uit na 'n dieper verhouding met Hom elke dag en in alle areas van jou lewe. As jy die wêreld 'n beter plek wil maak, moet jy begin om 'n beter mens te wees. Die vrug wat ons dra gaan nie kom as ons nie ons lewe benat met die lewende water nie.
Esegiël herinner ons daaraan dat ons MOET verander. Ons kan nie stilstaan nie. Ons kan nie ophou groei nie.
Watter "tjoepies" in jou lewe hou jou nog in die vlak water?
Woede, vrees, hoogmoedigheid, suinigheid, ongeduld, sensitiwiteit?
"We need the ankle-depths of walking to be exchanged for the knee-depths of praying and these for the loin depths of perfect purity and these for the length, depth, breadth and height of the love of Christ."
Lees 2 Petrus 3:18. Hoe kan jy verdiep in jou genade en kennis in alle areas van jou lewe?
Behalwe dat jy MOET verander, kom troos God ons om te sê jy KAN verander. Jy is nooit te oud om te verander, te groei nie. Dis 'n deurlopende proses. Die stroom in Esegiël getuig van 'n wonderwerk. Saad wat ontkiem en 'n boom met vrugte raak, is 'n wonderwerk. Brood en vis wat vermeerder, is 'n wonderwerk. God kan ook 'n wonderwerk in jou lewe verrig as jy bereid is om dieper te gaan, eerder as wyer.
Dit begin by die tempel, by 'n persoonlike verhouding met Christus wat aanhou groei.
Wie is daar wat jy ken wat hul lewe radikaal verander het? Ons kan nie altyd groei fisies sien nie, maar ons kan dit meet aan die manier waarop iemand is. Wie inspireer jou deur hoe hulle is, sonder om iets te doen?
Wie kan jy inspireer deur die manier waarop jy God loof en prys in jou lewe?
Moenie aanvaarding soek by jou kollegas of familie nie. Kry dit by die fontein van lewende water.
Moenie probeer inpas by jou werk of by die skool nie. Probeer inpas by God se plan.
Moenie weghardloop as dinge rof raak nie. Hardloop na God toe, dieper in die water.
Moenie al hoe wyer gaan soek as jou werk, vriende of finansies nie meer uitwerk nie. Gaan soek God se teenwoordigheid dieper.
Mag jy meer en meer die wil van God soek, meer en meer uit Sy fontein van lewende water drink, sodat Hy in elke area van jou lewe verheerlik word. Dit is inspirasie!