aandKerk | Fresh Namibia

  • Tuis
  • Wat is Fresh
  • Jeug
  • Kerk Dienste
  • Sessies
  • Uitreik
  • Finansies
  • Gebeure
  • Kontak Ons

aandKerk | Fresh Namibia

  • Tuis
  • Wat is Fresh
  • Jeug
  • Kerk Dienste
  • Sessies
  • Uitreik
  • Finansies
  • Gebeure
  • Kontak Ons

Sessies

OPSTANDINGSKRAG

paas1

Ons het vandeesweek die Paasfees gevier.  Jesus het baie aansien en lof ontvang vir die magdom wonderwerke en omgee wat Hy gedoen en gegee het.  Hy was baie geliefd, totdat Hy vir Lasarus uit die dood opgewek het en die tempel besoek het, die Fariseers uitgedaag het en die leierskap van die Romeine benoud begin maak het.  Toe was dit duidelik dat Hy óf die nuwe koning gaan wees óf doodgemaak gaan word.  

Selfs Sy dissipels, soos Judas en Petrus het begin twyfel of hulle hierdie paadjie van bespotting en skaamte kan stap.

paas2

Dink bietjie wie is baie sterk wat jy ken.  Sou jy daardie persoon wou aanvat met armdruk?  Dink jy jy sou wen?  Is daar sekere uitdagings, gevare in jou lewe waarvoor jy kans sien... en ander wat jy dink die risiko is te groot?  Ons is geneig om mekaar "uit te kyk", "op te weeg" en dan ons keuses in die lewe daarvolgens te maak.  

Ongelukkig is dit wat die dissipels en Fariseers ook met Jesus gedoen het.  Hulle het met hul geloof en in hul gedagtes onderhandel en onderskat!  Ons dink ons kan armdruk met God...

paas4

Daar was 'n seuntjie wat 'n duur fiets vir Kersfees wou hê.  Sy ma sê toe hy moet vir Liewe Jesus bid en 'n briefie skryf hoekom hy die fiets wil hê.  Sy wou natuurlik hê hy moet diep dink en bietjie reflekteer op sy jaar.  

Hy skryf toe: "Liewe Jesus, ek was baie soet hierdie jaar, mag ek asseblief 'n fiets kry?"  Na 'n rukkie skeur hy die brief op, want hy besef dis nie heeltemal waar nie.  Hy skryf weer: "Liewe Jesus, ek was nou en dan soet, mag ek asseblief 'n fiets kry?"

Na 'n rukkie skeur hy ook hierdie brief op, want hy besef hy het eintlik baie verkeerde goed gedoen.  "Liewe Jesus, ek wou baie graag soet wees, gee maar net asseblief die fiets," het hy weer geskryf.  

Na 'n rukkie stap hy by die kamer uit en sien in die sitkamer sy ma se uitstalling van die Kersspel.  Hy gryp die Maria beeldjie en sit dit onder sy bed.  Hy skryf toe weer: "Liewe Jesus, ek het jou ma, waar is my fiets?!"

paas3Net soos die Fariseers en sommige dissipels, onderhandel ons ook met Jesus.  Kan jy dink aan maniere waarop ons ook met God onderhandel? Hoe voel jy wanneer jy tot God bid, maar nie kry wat jy verwag nie?  Wat doen dit aan jou geloof?  

paas5

Jona in die Bybel het eens moedeloos onder sy skadu-boom gesit en kla tot God.  Hy was frustreerd omdat dinge nie uitgewerk het soos hy wou hê nie.  Toe neem die magtige God sy skadu weg deur 'n wurm wat die boom opvreet en uitdroog.  "Jonah waited beneath the comfort of his shade-plant for God to come around to his way of thinking, while God destroyed Jonah's comfort and waited for him to come around to God's way of loving."  

Wat vertel hierdie storie jou van God se krag?  Wat vertel hierdie storie ons van onderhandel en onderskat as dit by God kom?  Hoe is jy in jou lewe dalk soos Jona? Watter effek het dit op jou gebedslewe?  As ons bid tot God is dit nie altyd om iets te vra en te kry nie, maar om die krag te kry om nuut te dink oor ons probleme.

Die opstanding herinner ons daaraan dat God groot en magtig is.  Nie net die God van die Ou Testament nie, maar ook die God van die Nuwe Testament.  Hy het outoriteit en gesag en mag wat selfs dooies kan opwek.  Dit is die God wat ons dien!  Daarom kan ons nie met Hom onderhandel en Hom onderskat nie!  Ons gee of alles of niks.

paas6

Lees Openbaring 1:12-19 (veral 17-19).  Wat vertel hierdie teks jou van God se grootheid en mag?  Wat beteken die swaard met twee kante vir jou en hoe laat dit jou voel?  

In vandag se samelewing is ons geneig om te dink aan God as 'n "Liewe Jesus" van die Kinderbybel - sag, genadig, liefdevol, roep die kindertjies en gee brood vir die armes.  Sommiges plaas selfs ekstra sterk klem op God se vroulikheid en broosheid.  Die Bybel verwys wel na hierdie eienskappe van God en Jesus het dit ook kom demonstreer in Sy aardse lewe.  Maar dis nie al nie!  

God se krag en mag en outoriteit veroordeel, verander, vernietig en staan ferm.  Die Bybel praat selfs meer van hierdie eienskappe van God.  Dink aan plekke in die Bybel waar Jesus hierdie gesag en mag beoefen het (in die woestyn met die Satan, demone het gekerm as hulle hom sien, leierskap tromp-op aangevat, wind en storms stilgemaak, tempel, ens)

paas8

Net soos Judas en Petrus is ons ook soms bang oor wat die mense gaan sê.  Bang vir mislukking en teleurstelling, bespotting en vernedering.  Terwyl ons vir God moet vrees, nie vir mense en die wêreld nie!

Lees Matteus 10:26-28, met die klem op vers 28.  Wat maak jou bang in die lewe?  Wat is jou grootste vrese?  

Jou God is groter!  Vrees Hom!  

Droom jy groot drome wat jou bietjie bang maak?  Jou God is groot genoeg om dit te laat realiseer!  Vrees Hom!

paas9

Wat beteken dit dat ons 'n God van krag, mag en outoriteit dien?

* God is ernstig as Hy praat in Sy Woord.  Moenie laat jou besittings, familie, werk, status belangriker as Hy wees nie

* Jy kan nie net kies watter dele van Sy Woord jy wil glo en volg en lees nie.  Jy mag Hom nie misverstaan nie. Luister na alles wat Hy sê.

* Moenie Sy krag ondermyn nie - dit verander en vernuwe en wek op!

* Jy hoef nie uit jou eie krag dinge aan te pak nie, en jy kan ook nie

* Daar is krag in die Naam van Jesus - gebruik dit tot jou beskikking

* Wees sterk en vasberade (Efesiers 1 en 3) - wees 'n kragtige volgeling van 'n kragtige leier.

Be strong and courageous

 

BID SAAM:

Dankie dat ons 'n magtige, kragtige God dien.  

Here, mag ons nooit te bang wees om op te staan, uit te staan, U te volg nie, want U is sterker en magtiger as enige vyand.  

Amen!

  • Afrikaans (ZA)
  • English (UK)

Website Developed and Hosted by
greendoor 12 - software it and hosting