Ons praat vir die volgende 4 weke oor Handelinge 1:8 en begin vandag by Jerusalem. Wat weet jy alles van die stad Jerusalem af? Hoe vergelyk die stad Jerusalem in die Bybel met vandag se weergawe?
Kom ons lees 2 Kronieke 6:1-12, 16-18. Wat lees jy van Jerusalem? Wat staan vir jou uit oor God se belofte en hoe dit van generasie tot generasie oorgedra word?
Jerusalem is die stad wat Dawid as 'n veilige vesting na die volk se ballingskap gekies het. Sy pa, Salomo, het toe later die tempel daar gebou. Dit is waar Jesus sy prediking begin het, veroordeel is, nagmaal met Sy dissipels geniet het, gekruisig is en weer opgestaan het. Die plek waar Abraham vir Isak wou offer, was waarskynlik die plek waar Jerusalem later gebou is en die Israeliete het drie maal per jaar 'n pelgrimstog soontoe aangepak. Dit was fisies 'n prominente stad waar daar klomp belangrike gebeure plaasgevind het wat strategies was vir God se koninkryk.
Land was baie belangrik in die Bybelse tyd van Genesis tot Openbaring en vandag nog soek almal 'n stukkie land. God gee die land as 'n geskenk vir Sy volk en as deel van Sy belofte, maar dit kom ook met 'n verantwoordelikheid. Oral in die Bybel is land die plek waar God met Sy mense kan verkeer.
Dink maar aan die tuin van Eden. Dit was 'n ruimte waar binne God met Adam en Eva kon wandel, Sy voorsiening en genade betoon, 'n teken van 'n gesonde verhouding met Christus. As die Israeliete ongehoorsaam was, is hulle uit die land verban.
Net soos wat land 'n fisiese ruimte is, is dit ook 'n geestelike ontmoetingsplek met God. Jerusalem was dus meer as net 'n fisiese en strategiese ligging, maar ook 'n geestelike metafoor vir God se teenwoordigheid.
Jerusalem beteken "Stad van Vrede" - dis 'n plek van vernuwing, verlossing en tuiskoms. Jerusalem is 'n metafoor vir God se adres - daar waar Hy is.
Enige vorm wat jy invul, benodig jy 'n adres. Mense wil weet waar om jou op te spoor, 'n fisiese plek waar hulle jou kan ontmoet. Wat is jou fisiese adres waar jy bly? 'n Adres is baie belangrik, want dit is die anker waarvandaan jy alles aanpak. Ons almal wil na 'n harde dag en moeilike week tuiskom op 'n "plek van vrede". Jou fisiese adres lyk dalk baie mooi, maar is dit ook 'n geestelike adres waar jy God sal vind?
Wat maak jou huis 'n plek van vrede, hoop, liefde, genade? Ongelukkig is ons huise dikwels die plekke waar ons die meeste seermaak, die meeste afskeep of baklei.
Wat dink jy gebeur in jou huis wat nie die Here loof nie? Hoe kan jy die nuwe Jerusalem in jou huis tuisbring?
Sien, dit maak nie saak waar jy fisies bly of jouself bevind nie, as Jesus nie daar is nie, sal dit nooit Jerusalem wees nie. Jesus is die een wat die hemel hemel maak - maak nie saak waar dit is nie. Jesus is die een wat huis huis maak en kerk kerk.
So dikwels hardloop ons weg van ons huise af omdat dit 'n plek is vol probleme, maar ons moet vra: Hoe kan ons Jesus terugbring na ons huise en ons kerke toe... Het jy 'n paar idees vir jou huis en kerk?
Lees Openbaring 21:1-3. Wat staan vir jou uit in hierdie teksgedeelte?
Stede is gemaak met die doel om die Here te loof en prys, 'n plek van aanbidding te wees. Hoe lyk jou huis en kerk se stadsmure, se grense, se dienste, se gehoorsaamheid? Is dit 'n veilige vesting, 'n geestelike tuiste vir God?
Die fisiese gebou waar Fresh tans staan is midde 'n klomp verskillende besighede - kroeƫ, sportklubs, ontspanningsareas. Ons is fisies daar geplaas om 'n verskil aan die gemeenskap te maak, maar ons is ook geestelik daar geplaas om 'n "sentrum van vrede" te wees, 'n plek waar 'n mens God sal ontmoet, loof en prys.
Mag ons Jesus terugbring in ons huise en kerke, want dit sal hemel op aarde en hoop midde van vrees bring. Maak seker jou vlaggie is geplant en jou huis is geanker in Christus alvorens jy uitgaan om 'n verskil te maak.
GEBED:
Lees Psalm 122, 'n Pelgrimspsalm wat die Israeliete gesing het oppad na Jerusalem, as jou gebed hierdie week.