Lees Johannes 1:1-17. Watter woorde staan vir jou uit in hierdie teksgedeelte?
Lees weer vers 14. In hierdie vers is daar drie woorde waarna ons vandag gaan kyk – mens, waarheid en genade.
Jesus het as mens in die wêreld ingekom – Hy was volkome mens en volkome Heilig, vol van waarheid en genade.
Wat is Waarheid? En wat is Genade?
Vir baie is waarheid die werklikheid waarin elkeen van ons elke dag leef. Jou onmiddellike omgewing is wat jy fisies ervaar, sien en glo. Hoe lyk jou werklikheid hierdie tyd van die jaar?
Kersfees is ‘n tyd van blink liggies, geskenke, gejaag om alles af te handel, afskeidsetes, konflik, irritasie, noem maar nog. Binne-in hierdie realiteit, is daar egter altyd iemand wat vra: Wie is die baba Jesus nou eintlik? Waar kom Kersfees regtig vandaan?
Kersfees roep ons terug na die onskuldige, maar ondersoekende gees van ‘n kind. Kinderlike geloof soos dit in die Bybel na verwys word, is juis geloof wat vrae vra, onseker is, nie alles weet nie, verstom en verbaas is.
Lees weer vers 14. Om by God se waarheid uit te kom, moet ons eerlik wees met ons eie waarheid. Behalwe die tyd waarin ons onsself bevind, wat is nog ‘n werklikheid in jou lewe tans?
Dalk slegte gesondheid, dalk ‘n huis wat jy moet koop of verkoop, dalk misverstande met jou kollegas, wantroue, kinders wat ongehoorsaam is, planne wat nie uitwerk nie, ‘n lewe wat te besig is.
Lees Psalm 139:23-24.
Wanneer ons “mens” genoeg is om te besef dat daar areas van ons lewe is wat aandag nodig het, maak ons plek vir God se waarheid in ons lewe. Laat God toe om jou hart te ondersoek!
In 'n kersspel by die skool moes 'n seuntjie die engel speel wat sê: "Moenie bang wees nie!" Toe hy egter op die verhoog moes gaan, het hy voor almal sy arms begin swaai en sê: "Dis ek, dis ek, en ek is bang!" Baie van ons voel dalk ons moes heel jaar lank 'n front voorsit, maar ons is nou moeg, bang, alleen. Dis 'n werklikheid.
In Amerika het hul onlangs ‘n veldtog geloods getiteld “Jesus gets us”. Die rede vir hierdie veldtog word as volg opgesom:
Why is this campaign needed? Because it can be hard to see the real Jesus of the Bible through the fog of cultural Christianity. For many who have been burned by their experience in church, who have been devastated and hurt by other Christians, who are tortured by their poor decisions, this movement points us to the founder of our faith. If that resonates with you, or makes you think of someone you love, you might check out this new campaign for a fresh reminder of the radical love of God in Christ. He gets us.
Kyk die volgende video. https://www.youtube.com/watch?v=d-lcLDvR8mc
Die feit dat Jesus mens geword het, beteken eerstens dat hy verstaan waardeur ons as mense elke dag gaan. Hy verstaan jou pyn, teleurstelling, woede, jaloesie, emosies. Want jy is ‘n mens, net soos Hy was. Wat beteken hierdie waarheid vir jou huidige werklikheid?
Die feit dat Jesus mens geword het, beteken tweedens dat Hy, net soos wat Hy daardie eerste Kersfees fisies daar was, ook nog vandag daar is, en altyd sal wees, want Hy het opgestaan uit die dood.
Hy is Immanuel – God by ons. Hierdie ongelooflike waarheid gee ons moed en krag in tye wanneer dinge deurmekaar en gejaagd is, soos ook dikwels in die Kerstyd.
So, God ontmoet jou in jou werklikheid, verstaan waardeur jy gaan en is by jou, omdat Hy ook mens was.
In Markus 6:6 lees ons dat Jesus “verbaas” of “verstom” was oor die mense se optrede. Hierdie woorde beteken egter dat Hy in “verwondering” was oor wat Hy gesien het – dit het hom kwaad gemaak, maar ook Sy hart sag gemaak vol genade.
Die feit dat Jesus mens geword het, beteken derdens dat Hy nie net kwaad en verstom was soos ‘n mens nie, maar ook die deernis van ‘n mens gehad het. Hoe dink jy vaar ons samelewing met hierdie aspek van menswees? In Engels praat ons van die verskil tussen “human” en “humane”. Wat beteken dit vir jou vandag?
Wat is genade dan?
Genade is die besef dat God jou liefhet nes jy is, dat Hy jou verstaan nes jy is, dat Hy by jou is te alle tye... en wanneer jy daardie waarheid van Christus besef, dan eers verstaan jy genade.
Wat ‘n wonderlike gedagte – dat God genade aan my betoon! Is hierdie genade vir jou ‘n werklikheid?
“He gets us, but do you get Him?”
In die werklikheid van jou Kerstyd, hoe kan jy genade betoon? Genade is daardie tweede kans om reg te maak, weer te probeer, vergifnis te vra. Kersfees gee ons daardie geleentheid om die jaar goed te eindig, om reg te maak wat nie gewerk het, waarby ons nie uitgekom het nie. Om weer die werklikheid en menslikheid van Christus te ontdek.
Hoe kan jy hierdie Kerstyd, te midde van jou werklikheid, genade betoon aan jouself en aan ander?
Vir wie moet jy gaan jammer sê? Wie moet jy nooi?
Hoe kan jy meer mens en menslik wees in hierdie tyd?
Hoe kan jy teenwoordig wees, in voeling met die werklikheid van jou wêreld en van Christus?
Christus het mens geword, vir my en jou.
Dit is die volle waarheid, ryk aan genade. Mag dit jou met groot verwondering laat in hierdie Kerstyd.
Ons almal het ‘n stukkie Kersfees nodig!
Amen.