Ons kyk hierdie week verder na die werking van die Heilige Gees in ons lewe. Kenmerke van die gemeenskap op hierdie stadium was eensgesindheid, mededeelsaamheid, samehorigheid en samewerking - alles deur die krag en uitstorting van die Heilige Gees.
Lees Handelinge 4:32-5:16, die storie van Ananias en Sapphira.
Dit is waarskynlik een van die ergste stories in die Bybel. Hoe het dit jou laat voel? Wat dink jy het Ananias en sy vrou gedoen wat so verkeerd was dat dit hul dood gekos het? Was dit omdat hulle nie vrygewig was nie? Was dit omdat hulle gejok het vir Petrus? Hulle het tog sekerlik die reg om hul geld te spandeer soos hulle wil en niemand was onder enige verpligting om met die ander te deel nie.
Was jy al in so 'n situasie?
Daar was 'n dieperliggende probleem en sonde met Ananias en Sapphira. Die groter probleem was dat hulle iets weggesteek het van hul mede-gelowiges, hulle was agter-af, het net aan hulself gedink en besig met hul eie agenda. Hulle het vir hulself gejok, vir die ander en vir God. Hulle het dus nie net gejok nie, maar hulle het ‘n valse beeld van hulself vir die gemeenskap gegee en op die ou end nie God se plan en roeping nagekom nie.
Om leuens te vertel om eer te ontvang, beteken eintlik dat jy nie God genoeg vertrou om die plan te laat werk nie... Klink dit soos iets waarmee jy kan vereenselwig?
Die Heilige Gees kom konfronteer ons met die waarheid, kla ons aan van die leuens in ons lewe. Hoekom? Hy wil ons nie in die moeilikheid laat beland nie, maar wil ons verlos en vry maak van die dinge wat verhoed dat ons in 'n oop en eerlike verhouding met God en ons medemens kan staan.
Lees 1 Korintiers 2:12-16. Wat sê hierdie gedeelte oor die Gees van die Waarheid? Wat beteken dit vir jou lewe? Hoe dink jy wil die Gees van die Waarheid vir jou kom raad gee?
Lees nou Johannes 8:32. Heilige Gees roep ons tot ‘n oop, eerlike verhouding en vryspraak in Christus! Watter leuens is daar wat die wêreld vir ons vertel waarvan ons moet vry kom? Watter leuens is daar wat jy vir jouself vertel wat verhoud dat jy 'n gesonde verhouding met jou medemense kan hê? En met God? Die Heilige Gees kom roep jou en wil jou daarvan vry maak!
'n Gesiene man het een keer voor 'n hele gehoor by die opening van die universiteit opgestaan en 'n koevertjie op die podium gaan neersit om te wys hy het genoeg geld om 'n reuse skenking te maak. Die dekaan van die universiteit het hom hartlik bedank by die funksie, maar aan die einde van die dag gesien daar is net 'n IOU-briefie binne-in die koevert. Die man het nooit sy deel gegee nie, al het hy voor almal aangedui dat hy 'n bydrae maak. Is ons nie partykeer ook so nie? Gee voor om iemand of iets te wees, maar bedrief onsself, ons medemense en ook vir God?
Die Heilige Gees roep jou om vry te raak van die houvas wat 'n wêreldse identiteit op jou het.
In die res van Handelinge is daar minstens drie geleenthede waar die apostels uit die tronk breek met die hulp van engele, die eerste hiervan in Handelinge 5. Dit is voorwaar 'n teken dat God wil hê ons moet weet dat wanneer ons Sy. wil volg, ons vry sal wees vir die werk waarvoor Hy ons voorberei.
Wees vir 'n slag eerlik met jouself... Wat is die wêreldse leuens wat jy al begin glo het... waarvan jy moet vry kom?
1. Is dit geld wat 'n houvas op jou lewe het? Dit was voorwaar so in Ananias en Sapphira se lewe!
2. Vergelyk jy jou met ander? Probeer jy soos ander wees?
3. Streef jy perfeksie na, eerste plek, net die beste? Leer jy dit vir jou kinders?
4. Het woede of haat vir jou medemens 'n houvas op jou lewe?
5. Dink jy goeie dade gaan vir jou in God se goeie boekies kry of in ander mense s'n?
Wie is die helde in jou lewe? Wat staan uit van die superhelde wat ons ken? Hul dade is dikwels nie omdat hulle iets moet doen nie, maar dit wat hulle bo-op en buite die normale doen. Hulle dink nie aan hulself nie, hulle is ten volle bewus van hul swakheid, hulle deel met ander en doen goed sonder enige verpligting. Vrywillig. Dis wat Christus, ons superhero, vir ons gedoen het!
Wat het jy al uit jou eie krag probeer vermag? Met watter gesindheid en houding, hartsoortuiging pak jy dinge aan? Een van die wêreld se leuens is dat ons dit op ons eie, uit ons eie krag moet doen. Dis nie waar nie! Ons het die krag van die Heilige Gees - dis die Gees van Waarheid! Glo Hom, kyk na Hom en kyk deur Sy bril na jou eie lewe!
'n Ware held is iemand wat bewus is van sy swakheid en dan daaraan aandag gee - die wêreld kort meer sulke helde.
Hou op jok vir jouself dat jy alles onder beheer het. Hou op voorgee, God gee vir ons die Heilige Gees om op te hou jok en in die waarheid te lewe! Hou op vashou aan die dinge wat jy dink vir jou identiteit gee. Kry jou identiteit by Christus, wat jou lewe wil vul met die werklike waarheid.
BID VIR:
Genesing van die pyn en hartseer wat ons leuens veroorsaak in ons eie lewe, die lewe van die gemeenskap en ons verhouding met Christus.
Dankie dat die Heilige Gees ons roep tot oop en eerlike lewens!
Amen.
Begin jou sessie om saam te bid. Here vul ons met U Heilige Gees sodat U Gees ons kan help met Goddelike onderskeiding.
Lees die volgende twee teks gedeeltes
Wat staan vir jou uit in die verse oor die uitsorting van die Heilige Gees?
Wat staan vir jou uit aan die kragtige uitwerking van die Heilige Gees
Wanneer jy hierdie sin lees - wat behels die Heilige Gees se werk binne elke gelowige?
As jy dink aan die werking van die Heilige Gees - wat is die rol van die Heilige Gees en hoekom is dit belangrik om sensitief te wees vir die Heilige Gees se werking in elkeen van ons as gelowiges?
Hoe begin die proses om die Heilige Gees binne jou te aktiveer?
Dis 'n daaglikse keuse wat jy tot die Here bid en vra dat elkeen van ons Gees vervuld sal lewe- waar die Heilige Gees ons beskerm, begelei asook versterk om daar waar ons is, God se liefde te reflekteer.
Hoe lyk iemand se lewe wat die Heilige Gees in hom / haar het?
Wat staan vir jou uit in vers 44 - "eensgesind"
Hoe begelei, versterk en beskerm die Heilige Gees ons elkeen in hierdie eensgesind proses?
Hoe lyk jou lewenswandel tans?
Wat is daar in jou lewe wat jy meer of minder moet doen sodat jou lewe meer in lyn met evangelie kan wees?
Hoe help die Heilige Gees jou?
Die Heilige Gees begelei my en jou om meer soos Jesus te wees en minder soos onsself. Hierdie is 'n proses. Hoe help die volgende teks gedeelte ons om dit te verstaan.
Wat staan vir jou uit in die teks?
Mag jy opnuut die dinge in jou lewe evalueer waarin jy jou beskerming en versterking vind. Sou dit wees dat dit nie die Heilige Gees is nie, mag jy opnuut vir die Heilige Gees vra om jou lewe te vul -
Mag jy daar waar jy gaan aangenaam verras wees hoe die Heilige Gees jou versterk om daar die evangelie te leef en praat!
Bid saam
Verlede week Donderdag het ons Jesus se Hemelvaart herdenk. Gewoonlik is hierdie gebeurtenis nie vir ons so groot soos van die ander gebeurtenisse nie: (Kyk byvoorbeeld net na Checkers se rakke op die ander feeste teenoor die Hemelvaart van Jesus).
Maar, die Hemelvaart van Jesus behoort ook 'n groot fees met groot betekenis vir ons as gelowiges te wees. Die realiteit is, die Hemelvaart van Jesus het groot betekenis tot vir die ongelowiges, oor die feit dat Jesus weer gaan terug kom...
Lees Handelinge 1:9 saam...
Wat staan vir jou uit in hierdie teks gedeelte?
Dink bietjie aan hoe Jesus se dissipels moes voel en wat hulle ervaar het toe Jesus in die Hemel opgeneem is...
Jesus het nie net eendag besluit Hy gaan nou hemel toe en die dissipels net agter gelos nie...
Jesus het die dissipels voorberei voordat Hy gegaan het, want Hy het 'n groot taak en roeping vir hulle gegee wat hulle sonder Hom gaan moet doen. Hy is dalk nie meer by hulle in Sy fisiese lyf nie, maar Hy is na Sy hemelvaart by hulle en by ons in Gees deur die Heilige Gees.
Jesus het Sy dissipels lank voor Sy hemelvaart voorberei dat Hy wel gaan weg gaan.
Jesus het nog voor Sy kruisiging al die dissipels vertel dat Hy weg gaan.
Lees Johannes 13:31-35 saam...
Gesels saam: Wat beteken hierdie teks gedeelte vir jou? Wat staan vir jou uit? Wat verstaan jy van die woord: "verheerlik"?
Hierdie deel het my so baie aan my een onderwyseres laat dink...
Sy het altyd die week voordat ons eksamen skryf deur die boek geblaai en dan lees sy die opskrifte van hoofstukke... As jy die jaar opgelet het in die klas, dan sal jy weet dat sy hierdie hoofstukke wat sy nou hardop lees in die eksamen vrastel gesit het, So dit was die stil tyd in die klas waar ons notas gemaak het en onderstreep het dat die bladsy blink van die highlighter...
Jesus het vir Sy dissipels gesê Hy gaan verheerlik word en Hy gaan weg gaan, en met dit sê Hy vir hulle ook van die nuwe gebod: julle moet mekaar lief hê...
Die dissipels weet nou vir die eerste keer dat Jesus weg gaan, so wat Hy van hier af sê is baie belangrik, soos die juffrou voor die eksamen goed sê wat belangrik is. Ons het geweet in die eksamen gaan sy nie daar wees sodat ons vir haar vrae kan vra nie, so ons moes goed voorbereid gewees het vir die eksamen.
Net so moes die dissipels goed voorbereid gewees het vir wanneer Jesus gaan, want Hy gaan nie fisies by hulle wees om vir hulle die antwoorde te gee nie.
Dink saam oor hoe die dissipels moes voel toe hulle hier vir die eerste keer uitvind dat Jesus weg gaan...
Lees Johannes 14:1-4 saam
Wat staan vir jou uit in hierdie gesprek wat Jesus met Sy dissipels voer?
In ons lewens vandag, het ons vreeslik baie dinge waaroor ons onsself kan bekommer en waaroor ons kan ontsteld wees. Die wêreld is seer, en ons beleef dit. Dalk beleef jy siekte, of dalk beleef jy hoe vriende lelik is met jou. Of jy het al verlies beleef, tye waar dit baie sleg gaan en waar dit voel dit is hoe dit nou gaan wees...
Jesus se dissipels het ook baie ontsteld geword toe Jesus vir hulle sê dat Hy weg gaan.
Hulle het dit dalk nie verwag nie. Vir hulle is Hy die Messias vir wie hulle al so lank gewag het, en nou is Hy uiteindelik hier, en net na 'n kort 3 jaar van saam met Hom wandel sê Hy vir hulle dat Hy weg gaan gaan.
Maar Jesus troos hulle: Hy sê: "Moenie ontsteld wees nie."
Hy het gegaan met 'n groot doel:
1: Om weer verheerlik te word...
“Nou word die Seun van die mens verheerlik, en God word deur Hom verheerlik. 32En aangesien God deur Hom verheerlik word, sal God self Hom ook verheerlik; en Hy sal Hom binnekort verheerlik."
(Jesus het Sy Glorie en Sy Koningskap en Sy Godlikheid agter gelos om mens te word, en mens te wees, sodat Hy ook die swaarkry, die pein en die leed te kan beleef wat ons daagliks beleef, en Hy het deur alles wat sleg is, selfs die dood, het Hy gegaan sodat ek en jy gered en verlos kan wees van sonde. Hy het die sonde en die dood oorwin, sodat ons saam met Hom kan wees waar Hy is: In die hemel!
Jesus gaan terug hemel toe om aan die regter hand van die Vader te sit, waar Hy regeer as Koning van konings. En Hy regeer nou, soos ons hier sit.)
2: Om vir ons 'n plek gereed te maak in Sy Koninkryk...
Jesus maak Sy Koninkryk se deure vir ons oop en Hy laat ons toe om saam met Hom daar te wees.
As sondige mense het ons geen reg om by Sy heilige Koninkryk in te gaan nie, maar wat Hy vir ons aan die kruis kom doen het is so kragtig, en dat Hy ons met Sy bloed kom skoon was van sonde is so groot, dat ons vir die ewigheid wat kom, saam met Hom in die hemel kan wees.
Jesus het die dissipels nie verlaat nie, Hy het vir hulle en vir ons 'n plek gaan gereed maak, want ons behoort aan Hom en ons behoort in Sy huis.
Jesus het gelukkig nie die dissipels heeltemal alleen gelos soos my onderwyser ons heel alleen gelos het om self daai eksamen te skryf nie...Jesus het vir hulle belowe dat Hy die Heilige Gees sal stuur om by hulle te wees...
Lees nou Handelinge 1:1-11 saam...
Jesus stuur die Heilige Gees om so teenwoordig te wees in die gelowiges se lewens. Jesus is vandag hier by ons deur die Heilige Gees. Hy is by jou wanneer jy alleen is by die huis om tussen 'n klomp mense by die werk... Hy verlaat jou nooit nie. En Hy is nie net daar om net by ons te wees nie... Hy gee vir ons krag om Sy getuies te wees waarokal ons is.
Dit is nie altyd maklik om oor Jesus te praat nie, dink aan 'n braai saam met julle vriende. As almal gelowiges is, dan gaan dit makliker, maar as daar een of twee is wat nie in Jesus glo nie, dan bly ons liewers stil... Maar Hy gee vir ons krag om Sy getuie te wees, om Hom te verteenwoordig voor almal in ons lewens..
Die ander wondelikke waarheid is dat Jesus weer terug kom... Die engele sê vir die dissipels: “Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.”
Jesus kom terug!!!
Wat ons moet onthou van die hemelvaart en hoekom dit seker een van die grootste gebeurtenisse was vir ons, is:
1. Jesus is nou in die hemel in lewende lywe, en Hy regeer oor die heelal soos ons hier sit.
Hy het Sy Godskap agter gelos sodat Hy vir ons kan sterf, en nadat Hy weer opgestaan het uit die dood uit het Hy Sy Koninskap weer terug opgeneem. Hy is verheerlik!
2. Hy het gegaan om vir ons 'n plek gereed te maak in Sy Koninkryk. Dit beteken ek en jy behoort in Sy Koninkryk. Ons is nie gelos om soos weeskinders gelos te wees nie, maar ons is aangeneem en Hy is ons Vader. Hy versorg ons en Hy is met ons.
3. Hy het gegaan nie om ons alleen agter te los nie, maar om deur die Heilige Gees by ons elkeen te wees, waarokal ons is, om vir ons krag te gee om Sy getuies te wees in hierdie wêreld.
4. Hy kom weer terug... Is ons gereed vir die dag wanneer Jesus weer hier by ons gaan staan? Is ons gereed dat ons saam met Hom kan wees waar Hy is?
Die hemelvaart behoort ons hoop in Jesus se genade en in Sy vergifnis en in Sy wederkoms te bevestig...
Lees die Geloofsbelydenis saam deur.
Bid saam...