Ons het nou klaar gemaak met die boek van Johannes, waar ons gekyk het na die wonderwerke wat Jesus gedoen het. Waar Hy gesterf het en weer op gestaan het en waar Hy die disiepels die wêreld in stuur om hierdie goeie nuus te gaan deel. Dat Hy in ons plek gesterf het en dat ons ewige lewe deur Hom het, en dat Hy 'n plek in Sy koninkryk gaan gereed maak voor Hy weer kom.
Ons kyk hierdie week na ons werke, en na ons verhouding met God.
Ons is mense wat in Jesus glo. Mense wat glo dat Hy vir ons sondes gesterf het, en mense wat glo Hy het op gestaan en sit aan die regter hand van God. Ons is mense wat hoop het in Hom en ons is mense wat toegewyd aan Hom is. Wat nie net sê: "Ek is 'n Christen." nie, maar wat werklik in Jesus glo en wat ons verhouding met Hom wil verdiep.
As jy werklik jou hart vir Jesus gee, dan kom verander Hy hoe ons dink, hoe ons optree, wat ons doen en hoe ons dit doen. In ons diepste wese volg ons Hom en word ons soos Hy ons geskape het om te wees.
Lees Efesiërs 4:17-24 saam.
Ons is nuut gemaak deur die Heilige Gees wat in ons lewens werk.
En as ons dalk nog goed in ons lewens het wat losbandig is, of wat ons van God af weg hou, is dit die perfekte tyd om oor te gee, en om Hom toe te laat om in en deur ons te werk.
Kyk hierdie 2 videos saam.
Wat staan vir jou uit in hierdie 2 videos?
Die idee is nie om bang te maak nie, maar liewer dat ons besef tyd gaan so vinnig verby.
Wat doen ons met die tyd wat ons het?
Ons weet wat gebeur wanneer die tyd wat ons wel het uit hardloop.
Ons gaan of met God in Sy Koninkryk wees, of in 'n plek waar Hy nie is nie. Jesus noem dié plek "hell".
Ek en jy mag dalk gered wees deur ons geloof in Jesus en deur wat Hy vir ons aan die kruis gedoen het, maar wat van die mense wat in ons lewens is?
Hulle tyd raak elke dag ook 'n dag minder, en elkeen van ons het die roeping gekry om die goeie nuus van die evangelie te versprei daar waar ons is.
Een plek waar ons verskriklik baie tyd wat ons het spandeer, is by ons werke.
Dalk bak jy koek vir 'n lewe. Miskien is jy 'n prokereur, of miskien verkoop jy iets. Dalk bou jy huise, of dalk besit jy 'n besigheid. Miskien bestuur jy 'n besigheid, of dalk is jy 'n onderwyser. Miskien is jou bakkie jou kantoor.
Jy kan enige werk doen, en ons doen dit om eerstens, 'n inkomste te kry om te oorleef, en tweedens om jouself te verbeter, of om die besigheid in die lug te hou.
Die punt is, as jy werk, dan het jy 'n groot impak op iemand, al ken jy hulle nie, en al sien jy hulle nooit in jou lewe nie.
Lees 1 Korintiërs 10;31 saam.
Dit is waar ons wil uitkom. Is om deur ALLES wat ons doen God te verheerlik. Om dit tot Sy eer en vir Sy glorie te doen.
Ons wil tog aan God se wet gehoorsaam wees.
Hoe is ons vir God lief met ons hele hart en met ons hele siel en met ons hele verstand as ons Hom nie liefhet by ons werke nie?
Doen alles wat jy doen tot eer van God. Werk asof jy vir God werk. Nie sodat mense jou raaksien nie, maar dat God jou raaksien. Dit waarmee mense jou beloon is tydelik, maar dit waarmee God jou beloon is ewig.
Lees Matteus 22:34-40 saam.
Lees Kolossense 3:22-25 saam.
Vra net vir jouself soos jy werk, "Is ek besig om God te verheerlik deur dit wat ek nou doen?"
As jy in konstruksie is, en jy raak furstreerd met die manne, vra dan: "Is ek besig om God te verheerlik?"
As jy iets aan iemand verkoop, vra dan...
As jy sport doen, vra dan...
As jy besigheids besluite neem, vra dan...
As jy boer, vra dan...
As jy mense leer, vra dan...
En dit bring ons na die 2de belangrike wet toe, om jou naaste lief te hê soos jouself...
As jy met mense werk, vra dan: "Is ek besig om hom of haar lief te hê soos myself, en daardeur verheerlik ek God?"
Of as jy iets bou, vra dan...
Of as jy die "plumming" doen vir 'n klient, vra dan...
Of as jy koek bak vir iemand, vra dan...
Of as jy skool gee, vra dan...
Of as jy iets vir iemand skoon maak, of iets vir iemand "service", of iets aan iemand verkoop, of iets vir iemand doen, vra dan: "Is ek besig om hom of haar lief te hê soos ek myself liefhet, en daardeur verheerlik ek vir God en is ek gehoorsaam aan God...?"
Dit is hoe ons God kan verheerlik in ons werke. Deur om hierdie vrae te vra soos ons werk...
En soos enige iets anders wat jy leer bietjie tyd en bietjie moeite vat, gaan dit binnekort wees hoe jy deur jou dag gaan. Deur alles wat jy doen, gaan hierdie die vraag in jou gedagtes wees: "IS EK BESIG OM GOD TE VERHEERLIK DEUR DIT WAT EK NOU DOEN?"
Soos julle weet, is ons in die Evangelie volgens Johannes besig om te kyk na wie Jesus was en wat Hy gedoen het. Ons leer ook van Sy disiepels wat Hom gevolg het en al hierdie wondertekens wat Jesus gedoen het, beleef het en gesien het. Dit is baie duidelik dat Jesus die Christus is.
Ons het nou Paasfees gevier, en ons almal is weer opnuut herinner oor Jesus wat sowat 2000 jaar gelede vir ons aan die kruis gesterf het, en weer op gestaan het uit die dood uit, sodat ek en jy die lewe in oorvloed kan hê.
Gesels saam oor wat die werk van Jesus aan die kruis vir jou beteken.
Ons gaan saam kyk na een van Jesus se disiepels, Tomas.
Lees Johannes 20:19-31 saam.
Dink saam aan hoe Tomas gereageer het deur hierdie skrif gedeelte.
Noem in julle groep alles van Tomas wat genoem word in Johannes 20.
Wat staan vir julle uit?
Tomas word nie baie genoem in die Evangelies nie. Hy word maar 3 keer genoem.
Kom ons gaan lees bietjie saam oor Tomas en wie Tomas was.
In Matteus 10 word hy genoem as een van die 12 wat Jesus gevolg het.
Lees Johannes 11:6-16 saam.
Wat leer julle in Johannes 11 oor Tomas?
Lees nou Johannes 14:1-7 saam.
Wat leer julle hier oor Tomas?
Gesels saam in jou groep oor wat julle sover oor Tomas geleer het.
Lees weer Johannes 20:24-25.
Wie is Tomas vir jou?
Is hy nogsteeds net iemand wat nooit sal glo nie?
Dink bietjie terug aan wat julle nou oor Tomas geleer het, en gesels saam oor hoekom hy so reageer het in Johannes 20, waar hy sê, "sal ek nooit glo nie."
Bid saam.
Here, mag ons soos Tomas wees, wat tot die dood toe lojaal teenoor U is, wat U sal volg al weet ons nie waarheen U ons gaan lei nie, en wat nie toelaat dat ander vir hom vertel wat hy moet glo nie, maar U alleen kan hom oortuig in sy geloof.
Amen
Ons het vandeesweek die Paasfees gevier. Jesus het baie aansien en lof ontvang vir die magdom wonderwerke en omgee wat Hy gedoen en gegee het. Hy was baie geliefd, totdat Hy vir Lasarus uit die dood opgewek het en die tempel besoek het, die Fariseers uitgedaag het en die leierskap van die Romeine benoud begin maak het. Toe was dit duidelik dat Hy óf die nuwe koning gaan wees óf doodgemaak gaan word.
Selfs Sy dissipels, soos Judas en Petrus het begin twyfel of hulle hierdie paadjie van bespotting en skaamte kan stap.
Dink bietjie wie is baie sterk wat jy ken. Sou jy daardie persoon wou aanvat met armdruk? Dink jy jy sou wen? Is daar sekere uitdagings, gevare in jou lewe waarvoor jy kans sien... en ander wat jy dink die risiko is te groot? Ons is geneig om mekaar "uit te kyk", "op te weeg" en dan ons keuses in die lewe daarvolgens te maak.
Ongelukkig is dit wat die dissipels en Fariseers ook met Jesus gedoen het. Hulle het met hul geloof en in hul gedagtes onderhandel en onderskat! Ons dink ons kan armdruk met God...
Daar was 'n seuntjie wat 'n duur fiets vir Kersfees wou hê. Sy ma sê toe hy moet vir Liewe Jesus bid en 'n briefie skryf hoekom hy die fiets wil hê. Sy wou natuurlik hê hy moet diep dink en bietjie reflekteer op sy jaar.
Hy skryf toe: "Liewe Jesus, ek was baie soet hierdie jaar, mag ek asseblief 'n fiets kry?" Na 'n rukkie skeur hy die brief op, want hy besef dis nie heeltemal waar nie. Hy skryf weer: "Liewe Jesus, ek was nou en dan soet, mag ek asseblief 'n fiets kry?"
Na 'n rukkie skeur hy ook hierdie brief op, want hy besef hy het eintlik baie verkeerde goed gedoen. "Liewe Jesus, ek wou baie graag soet wees, gee maar net asseblief die fiets," het hy weer geskryf.
Na 'n rukkie stap hy by die kamer uit en sien in die sitkamer sy ma se uitstalling van die Kersspel. Hy gryp die Maria beeldjie en sit dit onder sy bed. Hy skryf toe weer: "Liewe Jesus, ek het jou ma, waar is my fiets?!"
Net soos die Fariseers en sommige dissipels, onderhandel ons ook met Jesus. Kan jy dink aan maniere waarop ons ook met God onderhandel? Hoe voel jy wanneer jy tot God bid, maar nie kry wat jy verwag nie? Wat doen dit aan jou geloof?
Jona in die Bybel het eens moedeloos onder sy skadu-boom gesit en kla tot God. Hy was frustreerd omdat dinge nie uitgewerk het soos hy wou hê nie. Toe neem die magtige God sy skadu weg deur 'n wurm wat die boom opvreet en uitdroog. "Jonah waited beneath the comfort of his shade-plant for God to come around to his way of thinking, while God destroyed Jonah's comfort and waited for him to come around to God's way of loving."
Wat vertel hierdie storie jou van God se krag? Wat vertel hierdie storie ons van onderhandel en onderskat as dit by God kom? Hoe is jy in jou lewe dalk soos Jona? Watter effek het dit op jou gebedslewe? As ons bid tot God is dit nie altyd om iets te vra en te kry nie, maar om die krag te kry om nuut te dink oor ons probleme.
Die opstanding herinner ons daaraan dat God groot en magtig is. Nie net die God van die Ou Testament nie, maar ook die God van die Nuwe Testament. Hy het outoriteit en gesag en mag wat selfs dooies kan opwek. Dit is die God wat ons dien! Daarom kan ons nie met Hom onderhandel en Hom onderskat nie! Ons gee of alles of niks.
Lees Openbaring 1:12-19 (veral 17-19). Wat vertel hierdie teks jou van God se grootheid en mag? Wat beteken die swaard met twee kante vir jou en hoe laat dit jou voel?
In vandag se samelewing is ons geneig om te dink aan God as 'n "Liewe Jesus" van die Kinderbybel - sag, genadig, liefdevol, roep die kindertjies en gee brood vir die armes. Sommiges plaas selfs ekstra sterk klem op God se vroulikheid en broosheid. Die Bybel verwys wel na hierdie eienskappe van God en Jesus het dit ook kom demonstreer in Sy aardse lewe. Maar dis nie al nie!
God se krag en mag en outoriteit veroordeel, verander, vernietig en staan ferm. Die Bybel praat selfs meer van hierdie eienskappe van God. Dink aan plekke in die Bybel waar Jesus hierdie gesag en mag beoefen het (in die woestyn met die Satan, demone het gekerm as hulle hom sien, leierskap tromp-op aangevat, wind en storms stilgemaak, tempel, ens)
Net soos Judas en Petrus is ons ook soms bang oor wat die mense gaan sê. Bang vir mislukking en teleurstelling, bespotting en vernedering. Terwyl ons vir God moet vrees, nie vir mense en die wêreld nie!
Lees Matteus 10:26-28, met die klem op vers 28. Wat maak jou bang in die lewe? Wat is jou grootste vrese?
Jou God is groter! Vrees Hom!
Droom jy groot drome wat jou bietjie bang maak? Jou God is groot genoeg om dit te laat realiseer! Vrees Hom!
Wat beteken dit dat ons 'n God van krag, mag en outoriteit dien?
* God is ernstig as Hy praat in Sy Woord. Moenie laat jou besittings, familie, werk, status belangriker as Hy wees nie
* Jy kan nie net kies watter dele van Sy Woord jy wil glo en volg en lees nie. Jy mag Hom nie misverstaan nie. Luister na alles wat Hy sê.
* Moenie Sy krag ondermyn nie - dit verander en vernuwe en wek op!
* Jy hoef nie uit jou eie krag dinge aan te pak nie, en jy kan ook nie
* Daar is krag in die Naam van Jesus - gebruik dit tot jou beskikking
* Wees sterk en vasberade (Efesiers 1 en 3) - wees 'n kragtige volgeling van 'n kragtige leier.
BID SAAM:
Dankie dat ons 'n magtige, kragtige God dien.
Here, mag ons nooit te bang wees om op te staan, uit te staan, U te volg nie, want U is sterker en magtiger as enige vyand.
Amen!